ROEPING EN GESTUURDHEID
Clarens Gemeente is ‘n klein, plattelandse geloofsfamilie met meer as ‘n eeu se spore wat in die berge en klowe van die wondermooi Oos-Vrystaat lê. Die gemeenskap is nie net omring deur pragtige natuurskoon nie, dit is ook ‘n interressante kaleidoskoop van mense. Behalwe die normale Suid-Afrikaanse kontras tussen kultuurgroepe, jonk en oud, welaf en behoeftig het ons dorp selfs nog meer verskeidenheid.
Daar is steeds “oorspronklike,” langtermyn inwoners” van die omgewing wat in die dorp woon, maar deesdae ook “nuwelinge” uit die groter Vrystaat, Gauteng, Noordwes en selfs so vêr soos die Wes-Kaap. Ons het heelwat “inwoners” wat ‘n huis hier het, maar wat net ‘n paar keer ‘n jaar in die dorp is. Ons is ook bekend as ‘n kunstenaarsgemeenskap met die skilderkuns, beeldende kuns, musiek en byna alle ander kunsvorme wat verteenwoordig word.
As ‘n gewilde toeristebestemming het ons ‘n hele gemeenskap sakelui, “herbergiers” wat gastehuise bedryf en al die mense in die aanverwante avontuur en onstapanningsaktiwiteite. Daarmee saam het ons ‘n klein, maar dinamiese boeregemeenskap wat saai, vee boer en ook ander gewasse. Die appels uit ons streek is ‘n belangrike bron vir ons land.
Die aard van die gemeenskap bring natuurlik mee dat ons Geloofsfamilie oók ‘n heerlike verskeidenheid van mense huisves. Ons is ‘n warm, vriendelike gemeente wat op verskeie maniere in ons gemeenskap betrokke is. Getuienis en gemeenskapsontwikkeling is al vir baie lank ‘n belangrike deel van ons bediening. Ons eredienste is ontspanne met ‘n verskeidenheid van aanbiddingstyle en geestelike ervarings. Oor die jare het ‘n sterk bybelstudie karakter in ons gemeente ontwikkel, wat vandag beslag vind in verskeie bybelstudie groepe.
Ons kerkraad is tans besig met die reis om onsself as ‘n “Gestuurde Gemeente” te verstaan. Ons het in 2021 belangrike nuwe treë op die pad gegee. Ons vertrou die Here vir duidelike leiding om ons unieke roeping en gestuurdheid te kan verwoord en uitleef. Ons baseer ons verstaan van kerkwees op die Missionale DNA en het tans die volgende paar merkers onderskei wat ons op die reis begelei:
- WOORDbediening
- Omhels DIVERSITEIT/Oop deure vir VREEMDELINGE
- LIEFDE vir en GEHOORSAAMHEID aan Jesus (Dissipelskap)
- BELEWENIS van GOD in die EREDIENS
- DIENSbaarheid/BETROKKE lidmate
- Onderlinge DEERNIS en LIEFDE
- GEBED
Bid saam met en vir ons en kom loer gerus in as jy deur die dorp reis.