Pastorie – Die resultaat van ’n koue nag

Ds SJ Stander (1920-1928) was goed bevriend met die bekende argitek Gerhard Moerdyk wat een wintersnag by hulle in die sinkhuisie oornag en byna verkluim het.  Die volgende oggend vra hy vir die dominee waar hulle beplan om ‘n pastorie te bou, waar hy toe die plek gaan wys het, op die kerkgrond, regoor die sinkkerkie.  Net daar ontwerp Gerhard Moerdyk ‘n pastorieplan wat vandag nog die trots is van Clarens gemeente.

Die eerste pastorie is in 1923 gebou.  Die argitek was mnr. Gerhard Moerdyk van Pretoria en die bouers was broers Prinsloo en Naudé. Hierdie statige sandsteengebou is tot ‘n nasionale bewaringswaardigheid verklaar en word as sodanig met trots deur die kerkraad in stand gehou en bewaar. Die tweede pastorie is veel later in 1973 gebou op die terrein van die destydse sinksaal en vir 20 jaar as ‘n pastorie gebruik terwyl die ou pastorie verhuur is. Nadat besluit is om die ou pastorie te restoureer, is die tweede pastorie verkoop aan ds. Flippie Griesel en die geld is vir die restourasie van die ou pastorie gebruik.