Die uiebol maak plek vir ’n haan
Met die gemeente se 25 jarige viering en nagmaal op 12 November 1945 word die kollekte vir ’n kerktoring opgeneem. Hulle vorder in £78 en ontvang ‘n donasie van £50.
Vroeër het ’n koepel wat van koper gemaak is in die plek van die huidige toring, kerkhorlosie en haan gepryk. Dit was ’n ywerige jong ds. Loubser wat verseker het dat die Ui, soos alom daarna verwys is, plek maak vir ’n toring, klok en haan. Die argitek van die kerkgebou en vorige predikant van Clarens, JJ le Roux, het dié plan ondersteun en verduidelik dat die koper koepel eertyds opgesit is om koste te sny. Die taak om die verlangde toring op te rig, val op ene mnr. G van Zyl. Die gemeente besluit voorts om die toring met ’n haan af te rond. As kommissie is aangestel ds. Loubser, ds. Frans Naudé, JH Naudé van Drupfontein en JH Naudé van Ill’Paradiso. Hulle taak was om die spesifikasies op te stel, ’n koste-beraming te doen en aan die vergadering voor te lê. Hul voorlegging is aanvaar in Februarie 1950. ‘n Gemeentelid het onderneem om die helfte van die koste van die toring te dek. Mnr. van Zyl se tender van vir £200 is aanvaar om die die koepel te verwyder en die kerktoring te bou. Die taak is egter eers in Februarie 1958 voortgesit nadat ds. Van Zyl by ‘n kerkraadsvergadering die hangende besluit oor ‘n kerktoring weer ter tafel gelê het. Op voorstel van broers GL Fourie en ds. Naudé besluit die vergadering om voort te gaan met die kerkraad se besluit van 1947 rakende die verwydering van die koepel en die aanbou van die toring, asook die installering van ’n horlosie/klok in Februarie 1958. Met die afbreek van die koepel is ‘n tender verkry vir die 246 pond gewig vir 3 pennies per pond, asook £25 vir die klok.
Tydens die noodtoestand in die land in 1976 kon Burgerlike Beskerming die kerkklok in noodgevalle gebruik.