Vroeë geskiedenis van Clarens se sierlike kerkgeboue

Die eerste aanbiddingsplek was die sink- en houtgebou langs die koöperasie in die Hoofstraat, wat reeds voor die afstigting van Bethlehem vir Clarens opgerig is.  As pastorie is ’n sinkplaathuisie, regoor die poskantoor, later bekend as Street Café, vir die eerste predikant en sy vrou ingerig. Die eerste kerkgebou was ‘n sinksaal wat voor die afstigting in 1920 deur Bethlehem gebou en as ‘n buitekerk op Clarens gebruik is.  Dit het gestaan op die perseel waar die “Rosewood Corner” nou is,  reg noord van die huidige kerkgebou.  Na die oprigting van die nuwe kerkgebou in 1940 is die sinksaal afgebreek en die materiaal verkoop.

Nadat die Moerdyk-pastorie in 1927 afbetaal is en die ekonomie na die tydelike ekonomiese insinking van 1922 geleidelik verbeter het, het die kerkraad ‘n boufonds vir ‘n nuwe kerkgebou gestig.  Die bouprojek van die Clarensgemeente het vele terugslae beleef weens die Depressie van 1932 en die Groot Droogte van 1933.   

Eers weer in 1937 is tydens ‘n gemeentevergadering besluit dat die kerkboufonds. versterk moet word en is pogings aangewend om beloofde fonds in te samel. Broers C Roos en J Oelrich het voorgestel dat die diakens lidmate se ondernemings om finansiële bydraes te maak skriftelik bevestig. Verder word die voorstel van broers JH Naudé en C Roos aanvaar dat die kerkraad se skuld aan die boufonds. afgeskryf word. 

Op versoek van die kerkraad rig ds. le Roux ‘n voorstel aan die argitekte Louwe en Moerdyk oor hoe hulle die kerkraad finansiëel kan tegemoet kom. Die kerkraad verwerp later die bouplan van mnre. Louw en Moerdyk ten gunste van die plan wat eerwaarde voorsitter ds. JJ le Roux voorgelê het. Broer G van Zyl sou die klipkapper wees. Op 13 Oktober 1938 by ‘n gemeente-vergadering word die bouplanne van ds. JJ le Roux asook die beraamde koste van £3000 met slegs drie teenstemme goedgekeur. Daar moet ‘n klok en horlosie in die toring kom. Mnre. G de Witt en JH Naudé is sterk ten gunste van ‘n pyporrel. Intussen het mnr. J van Straaten ‘n erf aan die kerkraad geskenk.

 

Die gemeente kon teen end Februarie 1940 werklik aan hulle nuwe sandsteenkerk begin bou.

Die boukommissie het uit sewe lede bestaan naamlik ds. JJ le Roux, broers JH Naudé, JG de Leeuw, AP Eksteen, J Oelrich, J Roos, FP Naudé en AA van Eeden. Tenders vir die nuwe kerk moes teen Augustus 1939 ingehandig wees. Die boukommissie teken die boukontrak op 2 September 1939.

Ds. le Roux lê die hoeksteen op 24 Februarie 1940.

Die gemeente wy hul kerk in op 8 Februarie 1941.

Die klipkapper was broer G van Zyl.