2020 Eeufeesjaar

Elke jaar is die jaar van onse Heer Jesus Christus

Clarens is in 1912 gestig en dié gemeenskappie in die vallei onderkant die Rooiberge floreer steeds. 

Aanvanklik het dit bloot ’n tuiste gebied aan verarmde boeregesinne en as ’n sake-sentrum gedien.

Gemeente-aktiwiteite het begin met buitedienste in die holkrans op Ouwerf op die plaas Naauwpoort.  Dit was geleë net onderkant die Nek waar die bekende baken, die Titanic-rots, steeds geanker staan.

Die Kerkbode van 22 Julie 1920 rapporteer:  Hiermede geschiedt kennisgewing dat de Ringskommissie van de Oost Ring op 23 Junie 1920 jl een gemeente van de Nederduitsch Gereformeerde Kerk gesticht heeft met het dorp CLARENS, distrik Bethlehem, als centrum.  Tot ouderlingen zyn benoemd: Nicolaas Barend Swart, Jan Jacobus Bruwer en Pieter Jozua Brand. Tot diakenen zyn benoemd: Francois Paulus Naudé en Ignatius Stefanus Rautenbach. JP van der Spuy: Scriva Oost Ring.

“Wat ‘n wonderlike ervaring om ‘n gemeente se honderdjarige bestaan te vier! Dis byna onwerklik om te dink dat ‘n Christelike geloofsfamilie vir so ‘n lang tyd in ‘n gemeenskap kan lééf en dien. Dis ‘n feestelike, dankbare gebeurtenis. Dit is ‘n oomblik waarin ‘n mens gaan stilstaan, terugdraai, en terugkyk op die pad wat gestap is. Die terugkyk bring verwondering, getuienis en lofprysing. Dankie Here!”

Maar elke bestemming is mos ook terselfdertyd ‘n vertrekpunt. Op elke perron van ‘n stasie, lughawegebou en busterminus is daar altyd dankbares wat aankom aan die einde van ‘n reis. Maar daar is ook wagtendes, wat hoopvol uitsien om te vertrek. So ook met hierdie feestelike bestemming van ons. ‘n Eeufees. Dis ‘n tyd van aankoms én vertrek, vreugde en opgewondenheid, dankbaarheid en gereedheid. Die Kerk van Jesus vier fees op tye soos hierdie. Ons het ons feesklere aan, maar ons reisklere is gepak en reg vir vertrek. Ja, dis ‘n vreemde en onsekere tyd om vorentoe te kyk. Dit voel asof ons ‘n tyd beleef van unieke en amper onoorkomelike uitdagings. Dit voel letterlik asof die “bekende wêreld” uitmekaar geskeur word en asof ons die eerste treë van die volgende eeu huiwerig en bekommerd neem.

Dis hier waar die terugkyk ons weer baie help. Met perspektief. Wie sou in 1920, by die stigting van ons gemeente, kon voorsien wat die twintigste eeu sou inhou? Binne ‘n dekade of twee, ‘n tweede wêreldoorlog, ‘n groot depressie, politieke en sosiale storms en asemrowende tegnologiese ontwikkelings. Die afgelope eeu was ‘n tyd van verandering en aanpassing sonder enige ander vergelykbare voorbeeld in die geskiedenis. Te midde van dit alles, hier staan ons. Een eeu later.

Daarom kan ons moedig en hoopvol wegkyk van die dankbare pad waarop ons tot hier gekom het. Ons kan vasbeslote en opgewonde in die toekoms inkyk en met oorgawe die eerste treë van die volgende skof van ons reis neem, met die woorde van Psalm 121 in ons gedagtes:  “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie. Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. 

Ons vier fees. Ons vat voor!